Die Mariette Loots Kankerfonds is deur Barbara Mariette Loots gestig wat op die ouderdom van 25 in Maart 1988 met Follikulêre Limfoma (nie Hodgkins-tipe) gediagnoseer is. Deur haar ervaringe en ook deur haar waarneming van ander kankerlyers, het Mariette besluit om meer aktief betrokke te raak by bewusmakingsprojekte en fondsinsamelingsveldtogte, en daarom die fonds gestig. Mariette het ‘n 10-jaar lange stryd teen kanker gevoer voor sy uiteindelik in Oktober 1998 op die ouderdom van 35 oorlede is. Sy was ‘n vegter tot op die einde.
Vandag bestaan die fonds steeds om geld in te samel deur verskeie aktiwiteite aan te bied en deur die vrygewigheid van borge en lede van die Mariette Loots Kankerfonds se Erelede Klub. Die fonds help om fasiliteite op te gradeer deur mediese toerusting en medisyne aan te koop vir organisasies, onder meer die Rooi Kruis en Tygerberg Hospitaal Kinder Kankersale, Eikenhof se Tydelike Woning vir Kankerpasiënte in Athlone en die Kalafong hospitaal en Universiteit van Pretoria se Kinder Kankersaal.
Die Mariette Loots Kankerfonds borg ook verskeie meriete toekennings en twee nasionale toekennings in samewerking met die Kankervereeniging van Suid-Afrika (KANSA). Hierdie toekennings word aan uitstaande kankervrywilligers gemaak om hul toewyding aan kankerlyers te erken.
Die Mariette Loots Kankerfonds is 'n geregistreerde organisasie sonder winsbejag en Janie du Plessis is die Ere-President van die Fonds. |